Wednesday, January 6, 2010

Kersfeeskalkoen

___________________________________________________________
Vir 25 Desember 2009 se kersfeesete, het die familie (die wat nog in Suid-Afrika is!) by Connie en Adele bymekaargekom en elkeen ietsie gebring en so was die tafel gelaai met heerlike Suid-Afrikaanse kersfeesdisse.

Hierdie jaar het my kalkoen, in teenstelling met laas jaar se uitgedroogde eend, heerlik sappig uitgekom. Ek het gesoek na 'n resep en toe sommer op google "Christmas Turkey" ingetik en die eerste resultaat was 'n heerlike resep van Jamie Oliver. Eers wou ek kroek en sommer 'n wegneem-vulsel by Woolworths koop, maar alles was uitverkoop! Ook maar goed, want Jamie se vulsel is fantasties - sien resep by ingehegte skakel.
http://www.jamieoliver.com/recipes/turkey-recipes/best-roast-turkey-christmas-or-any-time

Ek kon nie Salie kry nie ('n ander vrou op dieselfde oomblik in Woolworths, kon nie heel naeltjies kry vir haar 'gammon' nie, nie daar nie en ook nie in ander winkels in die omtrek nie), maar ek moet byvoeg, dit was reeds so teen 6 namiddag op 23 Des, so ook geen wonder as alles al uit verkoop was nie). Ek het die Salie met Tarragon vervang, so 'n tipe liquiries smaak, maar ek het nie te veel gebruik nie. Jy sal sien in die resep, mens braai dit vars saam met met die uie en knoffel - 'n wonderlike aroma. Toe ek die naam sien, was ek nie seker wat dit was nie, maar dog toe ek gee 'n sprong in die geloof en gebruik dit vir my dis, en toe dit so begin braai, toe weet ek wat dit is - ek het dit al by Granks geproe, 'n Thai restaurant in Rosebank, in hulle Green Chicken Curry.

Ek't ook op 'n warm Suid-Afrikaanse rysslaai afgekom, by die volgende skakel:
http://www.rainbownation.com/recipes/recipe.asp?type=3&id=19 - of soek vir: South African Side Dishes - Hot Rice Salad

Choc chip cookies

____________________________________________________


Mens kan te veel choc chips in choc chip cookies sit!! Daar was onduidelikheid oor die gebruik van die skaaltjie, en so beland 50g extra choc chips in die deeg. Wat toe gebeur, is dat dit baie moeilik is om vorms te maak uit die deeg. Die vormpies breek op, omdat daar te min deeg en te veel choc chips is. Ek het later heeltyd choc chips begin uithaal en raai wat het dit geweeg toe ek die origes na die tyd weeg? Jip: ongeveer 50g.
Resep:

1. 300 g botter
2. 375 g strooisuiker (= een en 'n driekwart koppie)
3. 600 g koekmeel (= 5 koppies)
4. 140 ml melk
5. 5 ml vanilla essens
6. 45 ml stroop

150 g sjokelade morsels (choc chips)

Plaas die eerste 6 bestanddele in 'n groot mengbak
Meng dit met 'n elektriese menger totdat die deeg 'n sagte bal vorm
Meng die sjokelade stukkies in en knie vir 5 minute
Rol die deeg in klein balletjies, plaas op 'n gesmeerde bakplaat en druk plat met 'n vurk
Verkoel in die yskas vir 30 minute voordat dit gebak word
Bak teen 180C vir 12-15 minute, of tot goudbruin
Koel af

Let wel:

Die koekies rys nie juis nie en kan dus naby aan mekaar op die bakplaat gepak word.
Moenie langer as 15 min inhou nie, want dit kan sommer baie hard word
Die resep werk ook goed as mens dit wil verdubbel

Isabel se suurlemoentert

________________________________________________

My ma het altyd hierdie suurlemoentert gebak. Dis baie vinnig. Dit was ons gunsteling! ๐Ÿ‹

Resep:

1 blik versoete kondensmelk
1/2 k suurlemoensap
3 eiers (geskei)
1 pakkie Tennis-koekies
100 g botter of margarine (sag)
4 eetlepels strooisuiker of gewoon

Metode:
  • Rol die tennisbeskuitjies fyn en meng met die botter en druk vas op die bodem van 'n gesmeerde vuurvaste glasbak. (Hou 'n klein bietjie van die koekiemengsel oor om later bo-oor die meringue te strooi).
  • Klits die kondensmelk en die suurlemoensap saam tot goed gemeng.
  • Klits die eiergele by die kondensmelk-mengsel tot goed gemeng.
  • Gooi die kondensmelk-mengsel bo-oor die beskuitjies in die tertbak.
  • Klits die eierwitte en die strooisuiker saam totdat die strooisuiker opgelos is en die eierwitte puntjies maak.
  • Skep die eierwitmengsel liggies bo-oor die kondensmelk-mengsel en maak puntjies met 'n vurk.
  • Strooi die oorblywende krummels bo-oor die meringue.
  • Sny 'n paar rooi geglasierde kersies fyn en rangskik dit bo-op die meringue.
  • Bak in die oond by 180°C vir 10 - 15 min totdat die meringe se puntjies ligbruin word.
Laat afkoel en geniet๐Ÿ’›

Wenke:

๐Ÿ‹ Ek gebruik sommer 'n skoon vadoek om die tennisbeskuitjies in fyn te rol. Maak die pakkie koekies leeg bo-op die vadoek en rol dit fyn met 'n koekroller. Bring dan punte van vadoek bymekaar en laat dan die koekiekrummels in die mengbak ingly. 

๐Ÿ‹ Klits die eierwitte in 'n skoon, droรซ bak en maak ook seker dat jy die draaiertjies mooi was en baie goed afdroog nadat jy die eiergele geklits het en voordat jy die eierwitte klits, anders sal die eierwit nie styf word nie.

๐Ÿ‹ Hierdie tert is nie baie groot nie; moenie 'n tรฉ groot tertbak gebruik nie 

๐Ÿ‹ Hierdie meringue word nie in die oond afgekoel nie. Dit is nie 'n harde meringue nie. Indien jy wel 'n harder meringue wil hรช, skakel die oond nรก 15 minute af en laat die meringue in die oond afkoel. 

๐Ÿ‹ Daar is baie variante op hierdie resep, maar geen wat soos my ma s'n lyk en proe nie!! ๐Ÿ’›